flower - Blomme by Huis Dirk Postma - Burgersdorp

Uit ons Kontrei - die kierie

Altyd die mooiste blomme

Die wat al kom kuier het by die Huis Dirk Postma sal weet waarvan ek praat. Daar is altyd die mooiste blomme orals.

Foto: Oktober 2007



die lief en leed van Huis Dirk Postma

 

VERGIFNIS

 

“Here hoeveel keer moet ek my broer vergewe...?” Jesus antwoord hom: “Sewentig maal sewe keer.” – Matt.18:21,22.

Na aanleiding van hierdie woorde van Jesus lyk dit asof Hy verwag dat ons ander moet vergewe – sewentig maal sewe keer – ongeag wat hulle aan ons gedoen het!  As ons nou eerlik wil wees en diep kyk – hoeveel van ons kry dit ooit reg?  Maar Jesus het ‘n hemelse sleuteltjie vir ons gegee toe Hy Sy intrek in ons hart geneem het – ‘n sleuteltjie waarmee ons die deur tot ‘n oorvloed seëninge kan oopsluit.  So eenvoudig die sleuteltjie, so groot die wonder daarvan – hierdie sleuteltjie van VERGIFNIS! Met hierdie sleuteltjie sluit ons ons hart oop vir Liefde om dit binne te stroom, en Hy wat die liefde self is.  Hy wis alles uit wat nie liefde is nie.  Geen seer het enige houvas meer nie, geen wrok kan hoegenaamd staande bly nie, en ons is heerlik vry! 

Kan jy sê: Dankie Heer, vir die wondersleutel van vergifnis my toebedeel.... Ek gebruik dit!!

 

BID VIR ONS SIEKES

 

Heel party van ons inwoners is nie te gesond nie en sal dit regtig baie waardeer word as hulle op ons vriende daar buite se gebedslyste geplaas word. 

Tannie Pikkie Gouws (Celia Wentzel se moeder), ons oudste inwoner 97 jaar sukkel met algehele verswakking. 

Tannie Tina Greyling (Sannie Hattingh se moeder) het vernoude are probleme en erge hartversaking. 

Tannie Nellie van Heerden het geweldige pyne in haar arms en hande en sukkel ook deesdae met haar bloeddruk. 

Tannie Bettie Schutte se gesondheidstoestand wissel ook van tyd tot tyd en veral na middagetes is sy baie moeg. 

Tannie Maria Jones het ‘n bloeiende neus gehad wat net nie gestop kon word nie wat beteken het dat sy opgeneem moes word in die plaaslike hospitaal. 

Tannie Martie Wilkinson se gesondheidstoestand het baie agteruit gegaan.  Sy ly aan Altzheimer se siekte, maar die kragte gee ook nou in. 

Tannie Kitty Schoonraad (Antionette Bezuidenhout se moeder) is baie siek en was eers opgeneem in die plaaslike hospitaal waarna sy oorgeplaas is na Bloemfontein.  Die diagnose is ‘n vernouiing in die dikderm.

VERJAARSDAGMAATJIES


Tannie Kitty Schoonraad het op Sondag 25 Mei 2008 verjaar en haar 81ste verjaarsdag gevier.  So op die Sondag was dit een groot middagete fees.  Tannie Bettie Schutte was op haar beurt 91 op Vrydag 30 Mei 2008.  Die glasie sherry saam met middagete was net wat ons nodig gehad het om die koue bietjie uit die binneste te vedryf.
Hartlik geluk aan die twee maatjies van ons.  Mag die Here se genade groot wees in die lewensjaar wat voorlê.


WIL JY HELP


Dit het al onder ons aandag gekom dat daar mense is wat wil help, maar hulle wil ‘n inwoner op ‘n persoonlike wyse help.  In die meeste gevalle wil persone ook anoniem bly.  Finansieël kan daar as gevolg gehelp word.  Deur ‘n direkte inbetaling by ABSA bank te doen in ons rekening Nr 1800280008.  As verwysing skryf DON LOS.  Dit gee ons ‘n aanduiding dat dit ‘n donasie is wat vir hulp met losies gebruik moet word.  Ons kan ook direk geskakel word by 051-6531123 vir die nodige inligting.  Hoe klein die donasie ookal is, dit gaan groot hulp wees om iemand te help om die losies voluit by te bring.

Ter inligting kan ons ook net sê dat baie van ons inwoners se inkomste nie genoeg is om die volle losies te betaal nie en help hulle kinders om dit by te bring.  Daar is egter gevalle waar van die inwoners se kinders ookal pensioenarisse is wat self ook sukkel om kop bo water te hou.  Daar is ook mense wat niemand het om hulle te help nie.  Ons opregte dank aan mense wat reeds van hulp is op dié wyse!


OUMA.....GROOTJIE....

 

Tannie Poppie Burger (Ronelle by FNB se moeder) spog met haar derde agterkleinkind.  Haar seun Twakkies, het Oupa geword.  Sy kan nie wag om die nuweling te gaan ontmoet nie.  Geluk aan die hele familie.


FOON PROBLEME

 

Die Tehuis se skakelbord maak ook gebruik van krag wat ESKOM voorsien.  Dus.... as ESKOM besluit dit moet donker wees kan ons ook nie met die buite-wêreld gesels vanaf ons nommer 051-6531123 nie.  Ongelukkig as mense ons skakel lui die telefoon, maar kan ons mekaar nie hoor nie.  Nou word daar gedink ons is moedswillig om nie ons foon te antwoord nie.  Daar is egter ‘n alternatief.... die twee telefoonhokkies is nog in goeie werkende toestand en kan ons daar met mekaar gesels.  Dus probeer gerus een van die volgende nommers 051-6531909 of 051-6531931 wanneer die tehuis nommer nie antwoord nie.  Iemand sal wel kan hoor, antwoord en gesels by een van die telefoonhokkies.


KUIERTJIES

 

Ma Botha het vir haar kleindogter Marietjie en familie in Bloemfontein gaan kuier.  Oumagrootjie speel lekker pop met haar twee agterkleinkinders.  Tannie Maria Marx se Van Biljon kinders van Jeffreysbaai het vir ‘n paar dae kom kuier.  Tannie Tina Greyling se seun en skoondogter van Kimberley het vir ‘n naweek kom loer hoe dit met hulle moeder gaan.  Oom Fanie en tannie Ella van der Westhuizen se seun, Willie en sy familie het van Ladybrand af hier gekuier.  Tannie Ella Human se seun, Hugo en sy vrou Annatjie, het vir ouma en die familie die tweeling kom wys wat hulle so rukkie terug ryker geword het.  Pieter du Plessis het vir ‘n naweek vir sy moeder, tannie Jessie, kom kuier.  Bennie Schutte het vir ‘n dag by sy ouma Magdalena gekuier.


TEN SLOTTE

 

Hier word ‘n koek afgelewer waarop geskryf staan

 ELLA ♥ MANLIEF

Tannie Ella van der Westhuizen het gedink oom Fanie raak romanties van vooraf en oom Fanie het gedink hy sal dalk ‘n privaatspeurder moet aanstel.  Nou ja, na baie gewonder vind ons toe uit daar staan eintlik ELLA & MANLIEF.  Die gawe skenker van die koek het haar & soos ‘n hartjie laat lyk.  Maak tog maar seker hoe julle dinge skryf, want die kinders het ons geleer ‘n getekende hartjie beteken LIEFDE en kon ons nou amper probleme opgetel het!
Nou ja, met ons almal se harte vol liefde vir al ons kontrei familie en vriende daar buite DANKIE dat julle julle is.  Wees GEGROET tot volgende keer!



On the Side

Contact

(079)892-8188
(072)806-1748
News@
Burgersdorp.ZA.NET

Copyright

NO Permission to copy
Anything!