Blomme by Huis Dirk Postma - Burgersdorp

Uit ons Kontrei - die kierie

Altyd die mooiste blomme

Die wat al kom kuier het by die Huis Dirk Postma sal weet waarvan ek praat. Daar is altyd die mooiste blomme orals.

Foto: Oktober 2007



die lief en leed van Huis Dirk Postma

HANDE

 

Ja, die werke van ons hande, hou dit in stand.  Ps. 90:17
Here, seën ons hande.  Ons hande is daar om die hande wat vasgehou moet word, vas te hou, om die een wat gestreel moet word, te streel.  Ons hande kan teer wees en hulle kan sterk wees.  Hulle kan die swakke ondersteun en hulle kan kalmte en vrede bring.  My hande kan uitreik na hulle wat eensaam is sodat hulle kan voel dat hulle ‘n vriend het.
Here, seën ons hande.  ‘n Oop hand kan deel, kan gee, kan seën.  Wanneer ons harte ons vertel van ‘n behoefte, kan ons hande ons harte help om daardie behoefte te vul.  Ons hande kan ondersteun, ons hande kan standvastigheid gee wat nodig is.
Here, seën ons hande.  Ons hande is daar om te doen wat hulle ook al moet doen.  Ons hande kan vernuwe en herstel dit wat hernuwe en herstel moet word.  Here, seën ons hande en gebruik hulle as instrumente in U liefdevolle diens.  Here, bevestig die werk van ons hande!....AMEN...

ONS INNIGE SIMPATIE


Ons dink aan oom Kosie en tannie Wilma van den Berg met die heengaan van oom Kosie se suster.  Sy suster was baie lank siek gewees en hulle het ook so ‘n rukkie gelede vir haar gaan kuier in Gauteng.

Ons innige simpatie ook met tannie Margaret Chantler wie se broer, Michael le Grance in Kimberley oorlede is.


NIE TE GESOND NIE


Kom ons dink aan die volgende inwoners in ons gebede met wie dit nie elke dag so goed gaan nie :  Ma Botha, Tannie Breggie Coetsee, Tannie Bessie Conradie, oom Gerrie Engelbrecht, tannie Pikkie Gouws, tannie Rina Janse van Rensburg, tannie Maria Marx, tannie Willemien Nel, tannie Kitty Schoonraad, tannie Maggie Venter, oom Boy Sauer, tannie Hettie Roux en tannie Bettie Schutte.
Tannie Jakkie Marx sukkel met ‘n baie seer knie en was in Bloemfontein en dit wil blyk of ‘n knievervanging nodig mag wees.  Tannie Martie van der Merwe wat reeds een knievervanging gehad het, sal binnekort vir ‘n tweede knievervanging moet gaan.


SILWERKRUIN DAMES


TRUIE PROJEK.......  Vanjaar is daar weer soos verlede jaar ‘n projek om truie aan minderbevoorregtes te verskaf.  Moenie dink ons inwoners sit met hande gevou nie.  Daar is op hierdie stadium alreeds meer as 20 truie en serpe ingehandig.  Hierdie truie is gebrei deur Babs van Biljon, Hettie de Haast en Mary Steenekamp.  Ook is die veelkleurige baba kombersies steeds baie gewild en word gereeld bestel.  Ans Heuer het pas weer drie afgelewer.  Hierdie fondse word ten bate van die tehuis gebruik.
Vier inwoners het ook hul hulp kom aanbied by die pannekoek dag en vlytig kom strooi en oprol, naamlik Jakkie Marx, Marthie van der Merwe, Annette Burger en Emma van Vuuren. 
Ons inwoners wat kan, bring beslis hul kant.  Onthou ook gerus ‘n bietjie dat die twee susters, Laura Hanekom en Ans Heuer, wat aan die stuur van sake met die pannekoek dag was, ook twee tehuis dames is!!

VERJAARSDAE

 

Net tannie Poppie Burger het die afgelope tyd verjaar.  Ons het partytjie gehou op Maandag 25 Februarie 2008 en tannie Poppie se 77ste verjaarsdag gevier.  Hartlik geluk tannie, en mag die nuwe lewensjaar vir tannie net een bondel lekker wees.


KUIER ALTYD MOS LEKKER

 

Tannie Miem Pretorius se seun, Henry van Boksburg, het vir ‘n week in ons gastewoonstel tuisgegaan en by sy ma gekuier.  Die twee het omtrent lekker gekuier en ‘n hond uit ‘n bos gesels.  Tannie Breggie Coetsee se twee dogters Bettie Coetsee van Kroonstad en Annatjie Botha van Ventersdorp het vir ‘n langnaweek by haar gekuier.  Tannie Baby Olivier se broer van Bloemfontein kuier hier en hulle is saam uit plaastoe om daar te kuier.  Oom Dirk en tannie Dorie Pieterse se kinders, Herman en Jenny Anderson van Mosselbaai het so ‘n vinnige kuiertjie kom geniet.  Bennie Schutte, kleinseun van tannie Magdalena het hier van Aliwal-Noord af kom kuier vir ‘n dag.  Tannie Evie Vermaak en haar seun, Theo van Vereeniging, kon net nie genoeg gesels kry met sy kuier hier by haar nie.


HOEKOM VAL ONS


Een van die dinge wat seker elke Oupa of Ouma oorkom is om te val!  Sommige inwoners se kinders kan ook dan baie onredelik wees deur te sê : “Hoekom het my pa of ma geval?  Hoekom was daar nie ‘n versorger by hulle nie?”
Kom ons noem dit sommer reg aan die begin.  Dit is ‘n saak van onmoontlikheid om vir elke inwoner ‘n eie versorger te voorsien.  Dit sal inwoning dan meer as duur maak en geen mens sal dan inwoning kan bekostig nie.  Die groot oorsaak van ‘n val is swak oë, verswakte spiere, bloeddruk en ook ‘n gesuis in die ore.
Oë se groot probleme is ‘n katarak en dit laat sig baie vinnig agteruitgaan.  Veral as ‘n persoon nie ‘n leser is nie, kom hulle dit nie gou agter nie.  Dit kan wel verwyder word, maar ‘n mens het dalk al ‘n slag of wat geval voordat ‘n operasie uitgevoer kan word.  Ore  :  Die meeste senior burgers word deur doofheid oorval en dit lei tot minder goeie balans-vermoë.  ‘n Oorfoon is wel ‘n groot hulpmiddel, maar dit neem nie die balansprobleem weg nie.  ‘n Oorfoon veroorsaak ook ongelukkig dat ‘n klomp mense wat saamkuier se geselskap meer soos ‘n swerm bye in jou oor klink en dit veroorsaak dat mens jou eerder onttrek vir groepkuiertjies.
Spierkrag..... hier is Parkinson se siekte of ‘n ligte beroerte dalk die oorsaak van ‘n val omdat dit nie vooraf gediagnoseer kan word nie, maar wel na ‘n val ontdek word.  Onthou ook wanneer ouderdom intree is mens stadiger en spiere word swakker en stadiger en is dit nie so maklik soos vroeër om ‘n val te keer nie.
Bloeddruk  ... die meeste se probleem, want wie is nie op ‘n bloeddrukpilletjie na 60 jarige ouderdom nie.  Bloeddruk kan vinnig wissel van lê, na sit, na staan.  Neem jou bloeddruk as jy lê, direk daarna as jy sit en dan weer as jy staan.  Jy mag dalk verras word deur die verskillende lesings wat jy sal vind.  Wie van ons sal dan as ons opstaan eers ‘n rukkie sit en daarna ‘n rukkie staan en dan begin loop.  Nee, oud en jonk staan op en begin stap.  En daardie vinnige posisie-veranderinge veroorsaak ‘n dronk gevoel (skielike daling van bloeddruk) in die kop en by ouer mense kan dit ook veroorsaak dat so ‘n persoon val.
Die meeste Senior Burgers wat val kan nie altyd presies sê wat die val veroorsaak het nie en blameer gewoonlik die mat, die kat of die stoel se poot en al die tyd was dit maar net as gevolg van een van die bostaande probleme.  So volgende keer as oupa of ouma val, wees maar simpatiek met hulle en die verpleegpersoneel.  Ons hou ook gladnie daarvan as iemand val nie, maar ongelukkig is dit ook een van die pakkette wat saam met ouderdom kom.


TEN SLOTTE

 

Die omie slaan neer en lê op moederaarde en moet opgetel word en dadelik word gekyk vir ‘n stukkende plek en of iets nie gebreek het nie.  Sê hy :  “Jislaaik, amper het ek nou geval, gelukkig het ek gekeer.”
Verpleegster:  “Oom, jy het geval, ons het jou dan opgetel.”  Die oom luister seker na Niekie van den Berg se program in die middae, wat half verontwaardig sê hy :  “Sê wie???!!!”



On the Side

Contact

(079)892-8188
(072)806-1748
News@
Burgersdorp.ZA.NET

Copyright

NO Permission to copy
Anything!