Blomme by Huis Dirk Postma - Burgersdorp

Uit ons Kontrei - die kierie

Altyd die mooiste blomme

Die wat al kom kuier het by die Huis Dirk Postma sal weet waarvan ek praat. Daar is altyd die mooiste blomme orals.

Foto: Oktober 2007



die lief en leed van Huis Dirk Postma

 

WYS GELOOF UIT DADE

 

Jakobus 2:18 -
'Wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.’

 

Ek sal liewer ‘n preek sien as hoor.  Ek sou liewer wou hê dat iemand saam met my loop as bloot die pad wys.  Die oog is ‘n beter leerling en meer bereidwillig as die oor.  Goeie raad is verwarrend, maar ‘n voorbeeld is altyd duidelik.  En die beste voorvatter is hulle wat hulle geloof leef, want om die goeie in aksie te sien, is wat almal nodig het.  Ek kan vinnig leer om iets te doen as jy my wys hoe dit gedoen word.  Ek kan jou hande in aksie sien, maar jou tong hardloop dalk te vinnig. 

Die lesings wat jy lewer mag verstandig en waar wees, maar ek sou liewer my les leer deur te sien wat jy doen.  Ek mag jou en die goeie raad wat jy gee dalk verkeerd verstaan.  Hoe jy optree en hoe jy leef, kan glad nie verkeerd verstaan word nie.         

                                      

 Edgar A Guest

GROOT MYLPAAL


Oom Fanie en tannie Ella van der Westhuizen was op Sondag 27 April 2008 huweliksmaats vir 62 jaar.  Wat ‘n wonderlike mylpaal.  Hulle is 62 jaar gelede in die NG Kerk in Tarkastad getroud.  Na hulle huwelik het hulle op die plaas Welgedacht gaan woon en geboer, gewerk en ook drie kinders groot-gemaak nl. Burgert, Helena en Willie.  Hul dogter Helena se huweliksonthaal was ook op die plaas. 

Hulle het baie vreugdes in die lewe geken, nl die vreugde van Oupa en Ouma wees van 6 kleinkinders waarvan 2 reeds getroud is en het hulle ook ‘n agterkleinkind van een jaar oud.  Hulle het die groot vreugde gehad om vir omtrent 53 jaar op die plaas te kon bly voordat ouderdom en wat daarmee gepaard gaan hulle gedwing het om in die Tehuis te kom bly. 

Daar was natuurlik ook hartseer tye.  So was hulle oudste seun Burgert se massiewe motorongeluk ‘n paar jaar gelede ‘n naelbyt-tyd toe hy buite hoop in die hospitaal was en sy pad na herstel baie stadig en met pyn gepaard gegaan het.  Hulle dogter Helena is sowat twee jaar gelede na ‘n lang siekbed oorlede.  Hulle skoondogter Hedwig het ‘n groot terugslag gehad toe kanker by haar gediagnoseer is.  Dit gaan met genade goed met haar op die oomblik. 

Ten spyte van oom Fanie en tannie Ella se vreugdes en hartseer is albei twee gelowige mense wat werklik probeer om Galasiërs 5 uit te leef.  Soos wat hulle dankbaarheid nou met die huweliksherdenking weer groot was teenoor hulle kinders, kleinkinders, familie, vriende en tehuis personeel wat almal gehelp het om die naweek van die huweliksherdenking so vreugdevol te maak..


VERJAARSDAGMAATJIES


Ja dit is waar!  Op 27 April 2008 was dit nie net oom Fanie van der Westhuizen se huweliksherdenking nie, maar was hy ook ‘n hele 93 jaar oud.  Die naweek was dit ‘n dubbel-viering en die personeel het ook probeer om sy voorkeurkosse te bedien soos bv die Nasionale Poeding of in maklike taal “Roy Poly.” 

Oom Fanie het natuurlik ‘n tweeling maatjie en dit is tannie Breggie Coetsee wat ook op 27 April verjaar en ook 93 jaar oud is.  Tannie Breggie is ons oudste inwonende inwoner en is reeds al 24 jaar ‘n inwoner in die Tehuis.  Tannie Breggie was so gelukkig dat al drie haar dogters die dag saam met haar kon deurbring en ‘n kuier die hele naweek lank. 

Hartlik geluk aan die twee maatjies.  Mag julle hierdie nuwe lewensjaar elke oomblik God se genade ervaar.


SILWERKRUIN DAMES


Ons glo almal weet al wie die Silwerkruin Dames is en ook wat hulle alles doen.  Hierdie dames beywer hulle grootliks vir die insameling van fondse om die Tehuis finansieël te help met die dinge wat nie altyd deel van ‘n begroting is nie en ook vir spesiale dinge om dit makliker te maak vir die inwoners.
Hulle het so pas vir die Tehuis vyf stofsuiers gekoop.  Hulle het ook die fondse geskenk vir 24 koppies en pierings asook 24 kleinbordjies.  Verder het hulle R5000 geskenk vir die insit van rakke vir ons klerebank en ou rekords-kamer.

Hier kom die GROOT EEN!! :  Hulle skenk nou R40 000 om te help om die herstel en verfwerk van die tehuis se gange te doen.  Nou kan mens met reg vra :  “HOE KRY HULLE DIT REG?”  Hulle doen in die eerste plek naaldwerk en hulle ondersteun ‘n groep inwoners wat ook aan die klub behoort om te help met die naaldwerk.  Die naaldwerk word verkoop en die geld baie wys aangewend.  Hulle is ook aan die stuur van sake met ons suksesvolle jaarlikse, nou wel bekende Silwerkruin Lentefees wat verlede jaar R32 500 ingesamel het. 

 

ONTHOU : HIERDIE JAAR VIND DIT PLAAS OP SATERDAG 27 SEPTEMBER 2008. 

 

Hierdie dames is op soek na nog lede uit ons damesgemeenskap.  Daar is geen groot verpligtinge nie behalwe dat ons kan weet die dames wat aan die Silwerkruin Dameskring behoort is veral die dames op wie se knoppie daar gedruk gaan word soos met die Silwerkruin Lentefees.  Daar is wel ‘n Bestuur, maar niemand sal gedwing word om die Bestuur te dien nie.  Daar is ook nie vergaderings op ‘n gereelde basis nie.  Dit gaan net daarom dat ons ‘n GROOT span mense het met harte vir Dirk Postma Tehuis en wie ons met vrymoedigheid kan nader om te help.  Hoekom soek ons meer lede?  Omdat dit gebeur dat na ‘n Silwerkruin Fees daar mense is wat vra : “Hoekom het julle my nie ook gekontak om te help nie?”  OF “Ek wil julle help met naaldwerk, maar weet nie hoe en waar nie.”  Nou kan ons weet dat die mense wat lede wil wees van ons SILWERKRUIN DAMESKRING is die mense op wie se nommer ons MOET druk vir hulp.  Ons voorsitter is Minnie O’Hare, tesouriere Hester Venter en sekretaresse Celia Wentzel.  Nog dames wat gekontak kan word is Laura Hanekom, Hansie Coetsee, Ans Heuer, Ria Henning, Mossie du Randt en dan spog hulle al met ‘n ere bestuurslid nl. Suzie Beukes.


HARTLIK GELUK

 

Ons wil darem van Tehuis se kant af ook vir ons voorsitter, Basie Marx, sy vrou Emmie en hulle Personeel gelukwens met die pragtige nuwe supermark.  Dit is beslis ‘n aanwins vir ons dorp.  Gelukkig moet mense eet en daarom glo ons dat dit beslis ‘n suksesvolle onderneming sal wees.  So bietjie raad aan ons Kontrei mense :  Gelukkig met die besigheid vertel jou vriende.  Ongelukkig oor iets gaan vertel vir Basie. 

STERKTE VIR JULLE ALMAL BY FOODZONE!


TEN SLOTTE

 

As ons BLOU BUSSIE kon praat !!  Hy, of is dit ‘n sy?, beleef darem baie…. So gaan die inwoners laas Dinsdag dorptoe.  Die tannies leef mos darem in die moderne tyd en dra die meeste langbroek.  So is een van die tannies ook dorptoe met meer as baie besigheid om te doen en dis hier in en daar uit.  Met die terugry Tehuis toe sê sy :  “Ek weet nie wat gaan vandag met my langbroek aan nie, maar dit sit vandag net nie lekker nie.”  Toe sy by die Tehuis afklim sien sy sy het die langbroek agterstevoor aan.  Sy sê : “G’n wonder ek voel so ongemaklik nie, die broek het agterstevoor aan gekom.”  Sê ‘n ander tannie: “Wel, gelukkig het jy die langbroek aan.  Dit kon erger gewees het.” 

Nou ja, voor dinge te erg raak laat ons groet. 

GEGROET tot volgende keer!!!.



On the Side

Contact

(079)892-8188
(072)806-1748
News@
Burgersdorp.ZA.NET

Copyright

NO Permission to copy
Anything!