flower - Blomme by Huis Dirk Postma - Burgersdorp

Uit ons Kontrei - die kierie

Altyd die mooiste blomme

Die wat al kom kuier het by die Huis Dirk Postma sal weet waarvan ek praat. Daar is altyd die mooiste blomme orals.

Foto: Oktober 2007



die lief en leed van Huis Dirk Postma

 

HARMONIE

 

As goeie bedienaars van veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien.  -  1 Petrus 4 v. 10.
Elke klawer op die sleutelbord van ‘n klavier speel een enkele noot, maar in die bekwame hande van ‘n musikant speel hierdie note in harmonie saam en skep ‘n pragtige melodie.
Net so is elkeen van ons ook ‘n individu wat elkeen sy of haar besondere noot laat weerklink, en as God ons meestermusikant is, speel ons almal in hemelse harmonie saam.  Die note wat ons so weergee is liefde en begrip, deernis en vergifnis, maar ons kan dit net gee wanneer ons onsself onvoorwaardelik in Gods hande laat, en Hom toelaat om Sy hemelse melodie deur ons te speel.
In harmonie met Sy liefde, word ons die deernisvolle mense wat ons veronderstel is om te wees – altyd gereed om ‘n helpende hand te reik waar nodig, altyd gereed om in harmonie met andere saam te werk – altyd bereid om ook ons deel te doen, hetsy deur ons gebede of ons dade, om hierdie land ‘n land van vrede te maak.

Speel U melodie deur my, O Heer, AMEN….

 

ONS GROET VIR PIKKIE EN TIENIE

 

Fredericka Johanna Gouws is op Dinsdag 22 Julie 2008 in die ouderdom van 97 jaar oorlede.  Sy was ons oudste inwoner en sover ons kennis strek ook die oudste inwoner in Burgersdorp.
Ouma Pikkie was vanaf 01.03.2002 ‘n inwoner van die Tehuis nadat sy haar huis in Excelsior verkoop het en hierheen verhuis het.  Sy was ‘n uitgesproke christen en baie geliefd onder haar kinders, kleinkinders, die inwoners en personeel.
‘n Gedenkdiens was ter herinnering van Ouma Pikkie op Vrydag 11 Julie 2008 hier by die Tehuis gehou en Ds Frikkie Greeff het die diens waargeneem.  Haar begrafnisdiens was op Sondag 13 Julie 2008 vanuit die NG Kerk Excelsior waar sy dan ook langs haar eggenoot begrawe is.  Sy het nog ‘n suster wat byna 100 jaar oud is en wat in Bloemfontein woon.
Schalk, Celia, Freda en Fanie, ons is so bly vir julle part dat julle soveel mooi herinninge van Ouma het om te koester.


Op Woensdag 16 Julie 2008 groet ons vir laas vir Anna Catharina Pelser in die ouderdom van byna 92 jaar.  Sy was die afgelope 15 jaar ‘n inwoner van die Tehuis.  Tannie Tienie was ‘n baie stil, nederige mens wat lief was om komplimente uit te deel.  Sy was ook ‘n persoon wat nie ‘n voet uit die Tehuis wou versit om te gaan kuier nie maar het dit geniet om besoekers hier te ontvang.  Sy was in die tyd wat sy hier gewoon het ook ‘n aktiewe lid van die Bybelstudiegroep.  Haar begrafnisdiens was vanuit die Tehuis en die diens was gelei deur Pastoor Roy Abrahams.  Ons innige simpatie aan haar kinders Marina, Boetman en die ander familie.

VERJAARSDAGMAATJIES


As daar nou een dag is wat vir die mens baie spesiaal is, is dit sy of haar verjaarsdag.  Dit is die spesiale dag waarin ons spesiale mense is vir ons vriende en geliefdes.  So het daar nou ‘n taamlike tydjie verloop van geen koerant (vakansie se skuld) en die uwe met siek skoonvader in die een uithoek en ‘n siek moeder in die ander uithoek van die land waar ons moes heen reis en dus geen Kierienuus.
Hartlik geluk aan die volgende inwoners wat op een of ander vrolike wyse hul verjaarsdae gevier het :  Madelene Schoombie 7 Junie (78 jr), Ella Potgieter 9 Junie (81 jr), Annette Burger 18 Junie (64 jr), Pieter du Plessis 25 Junie (44 jr), Edith Hambrook 27 June (78 yrs), Willemina Nel 28 Junie (79 jr), Tina Greyling 28 Junie (90 jr), Ella van der Westhuizen  1 Julie (86 jr), Dirk Coetzee 8 Julie (72 jr) en Wilma v.d. Berg 20 Julie (73 jr).
Wat ‘n mondvol!  Geluk aan elke maatjie, mag die nuwe lewensjaar se vreugde nooit ophou nie.


WELKOM


Welkom aan tannie Freda Dutton wat vanaf 1 Julie 2008 ‘n nuwe inwoner is hier by ons.  Tannie Freda kom van Cedarville af waar sy by haar skoonseun Bokkie en dogter, Meisie de Bruin op ‘n plaas naby Cedarville (Kokstad) gewoon het.  Ongelukkig vir die 91 jarige tannie Freda het haar gesondheid haar nou verplig om in ‘n Tehuis opgeneem te word.  Sy is egter baie gelukkig om steeds baie naby ‘n kind te woon aangesien dit Johan Pelser se moeder is en hy en Judy ook in die Tehuis woon.

ONTHOU…. ONS VERGEET

 

As ons wat hier woon nog alles 100% kon doen, sien, hoor en onthou hoekom sou ons dan hier kom woon het?  Ongelukkig is daar kinders en familie wat nie wil of kan glo dat ouderdom saam loop met menslike agteruitgang nie.  Hier is van ons wat dalk goed onthou, maar nie goed kan sien of hoor nie.  So is daar party van ons wat goed kan hoor of sien, maar nie meer goed kan onthou nie.  Vergeet is die kwaal waaraan die meeste van ons ly.  Omdat mens besef jy onthou nie meer so goed nie, is daar ongelukkig twee ander dinge wat na vore tree naamlik WANTROUE EN AGTERDOG.  Ons begin dink ons kan nie mense vertrou nie.  So raak alles weg en so onthou ons naderhand nie wat ons met die sleutels gedoen het nie en dan is dit ook gesteel.  Ons is ook geneig om te sien dat ons kinders en familie enige iets wat ons vertel vir soetkoek opeet en daarom raak ons geneig om die waarheid so effens te verdraai om ons te pas.  Veral as ons skielik ‘n telefoonoproep ontvang is ons so bly oor die stem aan die anderkant dat ons graag wil gesels en nie altyd alles onthou wat ons sou wou vertel nie en so kom daar dalk ‘n halwe storie uit. 
Ag, vat dit met ‘n knippie sout…. Onthou julle is ook oppad na waar ons nou is. 
Wees asseblief simpatiek met ons, behandel ons met die nodige respek, maar onthou tog die ONTHOU is nie meer wat dit was nie.
(NS :  Ons as personeel is deeglik bewus van die vergeet gogga, maar steeds probeer ons met groot empatie te luister en ‘n saak na die beste van ons vermoë te hanteer sodat dit eerder na ‘n oplossing lyk as om ‘n saak as nonsens af te maak, want dit gebeur ook dat daar waarheid in ‘n klagte steek.  Dan probeer ons die probleem regstel.)


TEN SLOTTE

 

Die tannie se familie kom kuier en natuurlik het ouma lekkergoete vir haar agterkleinkinders.  Pragtige mooi kleurvolle lekker “SMARTIES”.  Laat die 5-jarige vinnig van hom hoor :  Oma het Ouma nie geweet SMARTIES is ‘boring” nie?”  Voor ons dalk te ‘boring’ raak, sal ons maar eerder groet ….

 

GEGROET tot volgende keer!



On the Side

Contact

(079)892-8188
(072)806-1748
News@
Burgersdorp.ZA.NET

Copyright

NO Permission to copy
Anything!