voltruis - burgersdorp

Uit ons Kontrei

Burgersdorp Landbouersvereniging

Vir die boere in ons kontrei

Foto: Boeretoer - Mei 2008


Burgersdorp Landbouvergadering

- 17 Oktober 2008

Mnr Botha van OVK en Janneman van Aardt van VIRBAC het as borge opgetree vir die vergadering wat plaasgevind het op 2 Oktober 2008.  Mnr Botha lig die vergadering in oor werksaamhede van OVK.  Hy meld ook dat die Burgersdorp tak gebruik word vir opleiding.  Hy vra dan ook dat boere soms geduldig moet wees.
Janneman in samewerking met OVK bied spesiale afslag op enige van sy produkte aan vir ‘n week.
Die betaal van ledegeld word weer bespreek en lede word versoek om debietorders te voltooi en met die volgende vergadering in te dien.  Die afsluiting vind plaas op 20 November by die ondersteunersklub van die Hoërskool om 18:00. 
Pieter du Plessis verduidelik aan ons die proses wat gevolg kan word met die jag van jakkalse.  Hy sal weer terugvoer gee. 
David Petrowski van Eerste Nasionale Bank is verplaas na Stutterheim en begin Desember daar.  Die bestuurder van Molteno Eerste Nasionale Bank sal na Burgersdorp verhuis.
Vorms om subsidies te kry vir installering van elektrisiteit is beskikbaar en boere moet self daarvoor aansoek doen.  Dit is net van toepassing op werkers se huise. 
Die Boerevereniging se brandspuite is verkoop.  Aspekte met betrekking tot grondsake word weer bespreek.  Dit is ‘n onderwerp wat nog baie bespreek en deurgewerk moet word. 


Die verkiesing van die nuwe bestuur vir 2009 vind plaas en is as volg
Voorsitter           :       Edward de Villiers (Jnr)
Ondervoorsitter:       Willie Henning
Sekretaris          :       Andries Marx
Hulp Sekretaris :      Johan de Bruin (Jnr)
Addisionele lede:    
Roulph Koen
Stefan van Wyk
Louis Retief


Baie geluk aan die persone en ook groot dank aan die ou bestuur vir hul bydrae oor 2 jaar.
Landbougroete,   DANIE VAN LITSENBORGH

(Foto volg)

Foto : v.l.n.r. Andries Marx, Roulph Koen, Edward de Villiers, Mnr Botha (OVK) en Willie Henning

 

 

BURGERSDORP BOER KRY HOOGSTE WOLPRYS IN SUID-AFRIKA

Op die 5 de wolveiling van die seisoen het die BKB aanwyser met 1% gestyg om op 5012c\kg skoon te sluit.Op BKB se veiling het 2 bale BH van 17 mikron en 74% skoonopbrengs die hoogste prys vir die dag behaal toe dit verkoop is vir die uitstekende prys van R83.00\KG. 

 

Die trotse wolkweker is mnr. Pieter Abraham du Plessis van die plaas MELVERTON in die Burgersdorp distrik, dit is ook die gesamentlike 2de hoogste prys vir die huidige seisoen.  Die tendens is weereens besig om homself weekliks te herhaal waar BKB kliënte die hoogste pryse vir die veilingsdag behaal en dit teen die laagste bemarkingskostes.

 

BKB wil graag van die geleentheid gebruik maak om Pieter Abraham geluk te wens met sy uitstekende prestasie.

 

 

WITKOP OOIKUDDE EVALUERING


 Op 12 September is daar na bykans 2 dekades weer  n kudde evaluering gehou by Witkop Boerevereniging.  Die dag is baie goed ondersteun en was daar 12 inskrywings van 5 ooilammers elk gewees, rasse verteenwoordig was Merinos, Letelle, Dormers en Dohnës.  Elke ras is volgens sy eie keurkaart beoordeel en kon rasse aan die einde van die dag met mekaar vergelyk word.  Wat die kompetisie egter uniek maak is die feit dat elke deelnemer sy hele groep ooitjies moet voorlê aan die beoordelaars en dan word daar slegs 50 afgetel waarvan die keurder help om 30 op die oog uit te haal en dan word die beste 10 uit die oorblywende 20 met die hand en oog geklas, die boer moet dan self sy beste 5 uit die oorblywende 10 selekteer.  Daar is dus min ruimte dat die deelnemer 5 ooitjies kan uitsoek en voer voor die dag, die 5 ooitjies is dus ‘n akkurate weergawe van sy hele kudde.


Die hoofborg van die dag was BKB wat ondersteun is deur borgskappe van Virbac, Build-It, OVK - Jamestown en Botha en Van Wyk Landboudienste.


Beoordelaars was Jan van der Walt en Stephen Lumsden. Spesiale dank aan Malcom Malcomess en H.B.van der Walt vir die organisering van die dag en aan hul gades vir die heerlike versnapperings.  Wonder waar het Worsie se ooi die aand geslaap?

 

(FOTOS SAL VOLG)

UITSLAE VAN DIE DAG:
MEESTE PUNTE VAN DIE DAG:   DRIEHOEK BRDY -  H.B. en Johan van der Walt.  (foto bo)
GROEP MET BESTE WOL asook OOI MET BESTE VAG:     A.C. DE KLERK en DUNKIN STEPHENSON.  (Tweede foto – Duncan Stephenson, Jan van der Walt, BKB en A.C. de Klerk.)
GROEP MET BESTE BOUVORM asook OOI MET BESTE BOUVORM:  DRIEHOEK BRDY (derde foto)
OOI VAN DIE DAG:  WORSIE VAN HEERDEN (vierde foto – Jan van der Walt, BKB, Stephen Lumsden, CMW en Worsie van Heerden.)
VASHOUERS TYDENS DIE DAG (Foto onder) en BESIG MET BEOORDELING (foto heelonder).

 

Boeretoer - Mei 2008

Op Donderdag 22 Mei 2008 is ‘n groepie boere met ‘n glasie Old Brand Sherry by Dreunberg verwelkom.  Die eerste besoek was by Awie en Ronthea Viljoen.  Die plaas Goodhope is reeds vanaf 1896 in die Viljoens se besit.  Awie het die proses van volstruise-grootmaak van A – Z verduidelik en neem almal op ‘n toer waar hy stapsgewys uitwys hoe hy en Pieter van Niekerk die prosesse vervolmaak.

Vandaar is die boere na Philip Retief op sy plaas Heuningskrans waar die voerkrale besigtig word.  Die selfvoerder in die voerkraal laat net ‘n sekere hoeveelheid pille deur.  Die lusernlande wat 120 ha onder spilpunt en 8 ha onder vloedbesproeiing is, is vir menige boer ‘n wonderlike gesig.  Philip demonstreer ook ‘n nuwe lusern-snymasjien. Dit knak die plant en gooi dit klaar in windrye wat tot gevolg het dat die lusern baie vinniger droog word en gebaal kan word.   Na die besigtiging is almal by die rivier getrakteer met die allerheerlikste lewer in netvet, wors en broodjies.

Daar word na Robbie Hughes se plaas vertrek waar hy verduidelik hoe om in die buiteland te adverteer wat ‘n ontsettende duur proses is.  Sy jagtershuis is die besoek deur en deur werd! 

Aan Awie, Philip en Robbie ‘n baie hartlike dank!  Die toer is afgesluit by Dreunberg met ‘n gesellige braai.  Almal het lekker gekuier en gesmul aan die vleis wat Piet voorberei het.  Aan almal wat die toer moontlik gemaak het en meegemaak het, ‘n groot dankie.
Groete, Danie van Litsenborgh, Voorsitter.

 

 

Foto’s :  Van bo na onder :  Volstruis by Awie Viljoen,  Robbie Hughes se Jagtershuis,  Is dit nou wat ‘n toer aan ‘n boer doen? Boere in Philip Retief se skuur, Groep boere wat die toer meegemaak het,
Foto’s verskaf deur Hugo Coetzee.


voltruis - burgersdorp Robbie Hughes se Jagtershuis - burgersdorp - koedoe - jakkals

boer is moeg en vat siesta - burgersdorp boere-in-philip-retief-se-skuur - burgersdorp

boere op toer - burgersdorp kontrei

On the Side

Contact

(079)892-8188
(072)806-1748
News@
Burgersdorp.ZA.NET

Copyright

NO Permission to copy
Anything!