DA logo

Die DA in die Raad - The DA in Council - KOELKOP


Dié stukkie sit en skryf ek in Shingwedzi in die Nasionale Kruger Wildtuin en hiermee die goeie nuus. Die Wildtuin het, vir my altans, nog niks van sy bekoring verloor nie. Die kampe is steeds mooi, goedversorg en skoon, die winkels aantreklik en netjies en transformasie het die diere yskoud gelaat. En ek het by hernuwing besef waarom my hart verknog is aan Afrika. Hierdie is my land. Ek wil hier bly, ek wil hê my kinders moet hier bly en ek wil hê my kleinkinders moet ook hier bly. Ek glo in Suid-Afrika, ek glo in Suid-Afrikaners; ek glo dat juis in ons verskeidenheid al die vaardighede opgesluit is waarmee ons alle situasies die hoof kan bied.


Waarom, en dit is die slegte nuus, is ons dan besig om die toets te dop?


Dié vraag het die afgelope week by my gespook, veral na die gemors op die Kovsie-kampus. Oorle’ Pa het dikwels gesê die Liewe Heer moes baie van ons gedink het om ons in dié land met al sy probleme te plaas, maar hy wonder soms of die Liewe Heer ons nie oorskat het nie.  Die afgelope week het ek ook gewonder.


Ons het in 1994 die wêreld verstom met ‘n vreedsame politieke oorgang teen alle verwagtings in.  In 1995 wen ons die Wêreldbeker en sien ons met trane in die oë hoe Francois Pienaar en Mandela mekaar omarm. Het ons dan sedertdien die draaiboek verloor?


Die vreedsame naasbestaan van uiteenlopende kulture binne beperkte grense verg Salomo se wysheid, soos wat die terroriste-aanvalle van gegriefde minderhede dwarsoor die wêreld maar te duidelik bewys. Genade, as die Wallone en Flaminge in België wat net hulle tale nie deel nie, probleme het, het ons dan ‘n kat-se-kans? Die antwoord is doodeenvoudig: ons MOET ‘n resep vind en ons MOET mekaar vind, want indien nie? …… mens wil nie daaraan dink nie.


Ons voorsate het gedwonge segregasie – plein Apartheid – probeer, met katastrofiese gevolge. Kovsies probeer skynbaar gedwonge integrasie – en ook dit wil nie lekker werk nie. Die VSA het vir ‘n hele paar dekades die sg ‘bussing’-stelsel gehad waarmee leerlinge van kleur aangery is na skole met ‘n tekort aan kleur. Dit wou nie werk nie. Aan die anderkant word daar hier nou al ook hoe lank geskerm dat ‘die tyd nog nie reg is nie’. Probleem is net die tyd raak op en dis steeds nie reg nie.


Ongelukkig kon ek geen Salomo-bloedlyn in my voorsate opspoor nie, maar gewone ‘common sense’ kan dalk ook help. En wat ek hieronder sê geld vir almal in hierdie land, want almal het skuld.


Eerstens respek: vir mense, vir kulture, vir verskille, vir diere, sommer vir God se Skepping in sy totaliteit. Mens urineer nie op kos nie en jy maak ook nie of jy op kos urineer nie, nie eers op die hond s’n nie. Dis nie oulik of snaaks of slim nie, dis walglik. Mens maak ook nie iemand dood vir sy selfoon nie. En mens verkrag nie vrouens of kinders nie. Mens respekteer ook ander mense se tyd en daarom daag jy betyds op vir afsprake en vergaderings. Mens praat nie neerhalend van ‘n ander Godsdiens en kultuur nie, al verstaan jy dit nie.


Tweedens beginsels: daar is baie, maar ter wille van ruimte gaan ek net hou by twee, dié van natuurlike geregtigheid. Die eerste is audi alteram partem – hoor die ander kant. Tot dusver het ek met die Kovsie-kos-debakel nooit gehoor dat die ander kant, die studente, kans gekry het om hulle saak te stel nie. Ook van die tweede, onskuldig tot skuldig bevind, het ek nie veel tekens gesien nie. Beginsels kan nie lukraak toegepas word nie, maar moet geld vir almal, van die keiser tot by die kat. En al is die situasie ook hoe weersinwekkend, moet almal gelyke behandeling ontvang.


Is ‘n deel van SA se probleem nie dalk dat alles deur ‘n rasse-bril bekyk word en gebeure beoordeel word volgens wie en wat betrokke is en nie volgens beginsels nie? Wanneer iemand binne ‘n groep optree volgens die stereotipe van daardie groep spring ons in die lug en sê” ek het mos gesê!  Dit is vir my die essensie van rassisme, om die gedrag van enkelinge op die groep van toepassing te maak. Dit is waarom nasionalisme so ‘n uiters gevaarlike politieke ideologie kan wees, want mense word uit die wesensaard van nasionalisme saamgegroepeer, nie op grond van beginsels nie, maar op grond van emosie.

 

In Suid-Afrika het ons nou beginselvaste koelkoppe nodig, nie emosionele heethoofde nie.

 

On the Side

Contact

(079)892-8188
(072)806-1748
News@
Burgersdorp.ZA.NET

Copyright

NO Permission to copy
Anything!