Daar was nou behoorlik makietie gehou toe Albert Venter van Burgersdorp op Donderdag 14 Augustus sy tagtigste verjaardag gevier het.
Die fees het op sy verjaardag begin toe gaste en familie van so ver as Amerika, Johannesburg en Bloemfontein opgedaag het om die baie spesiale dag saam met hom te vier.
Sowat 96 gaste is op Saterdag, 16 Augustus in die skoolsaal onthaal. Die tafels en die saal was keurig versier en ‘n heerlike driegang maaltyd is voorgesit .
‘n Kort toneelstuk, “Liefde is ‘n Veteraanmotor” is opgevoer deur Fnuik Produksies van Johannesburg. Die twee jong aktrises, Izaan en Anne het die gaste vermaak met pragtige sang sowel as met pittige waarhede, stories en staaltjies oor die ouderdom.
Verskeie sprekers het baie mooi woorde oor Albert geopper en daar is telkens verwys na die geboue en meubels wat hy oor die jare ontwerp en geskep het asook sy betrokkenheid by die gemeenskap en sy gesin..
Albert is bekend vir sy liefde vir die Skepper, die kerk en sy medemens. Dit was dan heel gepas dat hy uit dankbaarheid vir hierdie besondere mylpaal in sy lewe, ‘n baie mooi eikehout kateder vir die NG Kerk gemaak en aan Ds. Frikkie Greeff oorhandig het.
In Spreuke 16 vers 31 staan daar: “Ouderdom is ‘n sierlike kroon en dit kom die toe wat reg lewe.” ‘n Mens hoef maar net na Albert te kyk om die waarheid van hierdie teksvers te beleef.
Die feesvieringe is op Sondag voortgesit toe Albert se eerste agterkleinkind gedoop is en die trotse oupagrootjie die voorreg gehad het om die vyf-maande oue seuntjie, Aidan Louw, in die kerk in te bring.
Dit was dan vir ons as kinders ‘n groot voorreg om ons dierbare Pa se 80ste verjaardag saam met hom en sy baie spesiale gaste te vier.
Ons wens hierdie merkwaardige en geliefde mens goeie gesondheid, voorspoed en ‘n baie gelukkige nuwe lewensjaar toe.
Franci, Danita en Liebrecht
Baie geluk!
Op die 20 September 2008, het Juan en Patricia de Lora (Floors en Patsy) hul nagraadse diplomas in Publieke Administrasie aan die Universiteit van Wes Kaapland ontvang. Hulle is woonagtig in Parow. Juan is die seun van Violet de Lora en is ‘n boorling van Burgersdorp. Hy is tans die Bestuurder: Ontwikkeling en Opleiding by SACCOL, wat Ko-operatiewe Banke namens die Reserwe Bank reguleer en ondersteun in Suid Afrika. Sy vrou Patsy is die Wes Kaapse Bestuurder van PPASA, ’n nie-regeringsorganisaie wat bemoeid is met gesinsgesondheid in Suid Afrika. Albei was in die verlede werksaaam by die munisipaliteit in Burgersdorp.
Baie geluk aan FJ de Klerk, seun van Icy en Lucie de Klerk wat in die huwelik getreë het met Hanlie, kleindogter van Gerhard en Hansie Coetsee.
Trevor King is getroud met Cathy wat afkomstig is van Queenstown.
Baie geluk aan Eddie & Annette van Wyk met hul dogter Marli se troue met Frans op 4 Oktober 2008.
Hettie Coetsee se seun Davel is getroud.
Johanna van Niekerk se dogter, Hettie, is op Saterdag 4 Oktober 2008 getroud.
Baie geluk aan bogenoemde egpare en ons hoop om in ‘n volgende uitgawe van UIT ONS KONTREI foto’s te kan plaas.
Die opening van FOODZONE in ‘n splinternuwe gebou het plaasgevind op 30 April 2008. Wat die dag meer besonders gemaak het, was dat dit ook die verjaarsdag van die eienaar, Basie Marx, was.
Vanaf Kaapstad BEC het mnre Chris van Tonder en Harry Kleynhans in die dag se verrigtinge gedeel. Baie geluk aan Frikkie Delport wat as bestuurder aangestel is en ‘n hartlike welkom aan die twee nuwe gesigte op die personeel, nl. Elana en Emmie, wat die totale personeel van Foodzone op 35 te staan bring.
Die telefoonnommer van FOODZONE SUPERMARK is 051-6530022/26 en die faksnommer 051-6530036. Handelstye is vanaf Maandag tot Saterdag 08:00 tot 18:00 en op Sondae 08:00 – 13:00.
Die ‘ou’ Foodzone is as deli omskep vir die lewering van vars groente en vrugte sowel as vleis (slaghuis) en wyn. Die telefoonnommer bly dieselfde, naamlik 051-6530037 of 051-6531825. Handelstye is Maandag tot Vrydag vanaf 08:00 – 18:00, Saterdag 08:00 – 14:00 en Sondae gesluit.
Baie geluk aan Basie en sy personeel vir ‘n pragtige nuwe supermark. Ons weet dat dit baie vooraf beplanning en tyd geverg het. Mag elkeen lekker gaan ‘shop till you drop’ in dié winkel wat vir ons soos ‘n ‘bederf uit die stad’ voel!
CRAFTY CORNER (René Horn) het verskuif na Kerkstraat 24 (die huis langs Horn & Kumm) en heet nou “CRAZY CRAFTERS”. Susan Retief en haar suster, Almarie Meiring, het vennote geword en saam beplan ons om gereeld werkswinkels aan te bied.
Hou hierdie spasie dop!!!
Kom loer gerus na al die nuwe voorraad!
Namens die gemeenskap van Burgersdorp, wens ons vir Almarie, Susan en René baie geluk
met die pragtige winkel wat op
Maandag 3 Maart 2008 geopen het.
Mag julle baie gelukkig wees, en van ons almal ‘crazy crafters’ maak!
Foto: Die drie vennote : René Horn, Susan Retief en Almarie Meiring
Foto regs: mev Helena Horn by ‘n toonbank in Crazy Crafters.
(079)892-8188
(072)806-1748
News@
Burgersdorp.ZA.NET
NO Permission to copy
Anything!