Mnr & Mej BHS 2008

Mnr & Mej BHS 2008

 

 
Vanjaar is die Mnr & Mej BHS(Burgersdorp Hoër Skool) vir die 10de keer aangebied.  Tien deelnemers van elke geslag word deur hul eie klasmaats verkies om hierdie titel mee te ding.    Daar is besluit om die formaat bietjie te verander na ‘n meer informele funksie.  In stede daarvan dat die leerders paradeer is verskillende temas uitgewerk en het hulle hulle bewegings daarop geskoei.  Dit het minder stres    by die leerders veroorsaak.... vandaar die feit dat die vrae so goed beantwoord is! 

 

Deelnemers het in groepe van 5 vrae beantwoord oor allerhande interessante aspekte – hetsy tegnologie se invloed op die jeug, dissipline, eienskappe van ‘n goeie onderwyser ens.

Die deelnemers het in informele drag, stranddrag en formele drag op die verhoog verskyn  -  prentjiemooi!  Die gebrul van ‘n motorfiets tydens die formele seremonie het verder bygedra tot die sukses van ‘n heerlike aand.

 

Die saal het, met die hulp van Chantel de Wet, ‘n pienk gewaad aangeneem en bygedra tot ‘n heerlike atmosfeer.  Die gaskunstenaar was Christo Meyer, ‘n oudleerling van die skool.  Hy het almal se voete gekielie met sy heerlike, bekende liedjies en het spontane reaksie van die gehoor ontvang.  Uit die kombuis het smulhappies honger mae bietjie gelawe – dit het nie net mooi gelyk nie, maar ook heerlik geproe!

 

Danksy die seremoniemeester, Jaco Koen (self ‘n oudleerling), het die aand vlot verloop.  Dit is nie ‘n maklike taak om 150 mense te ‘vermaak’ as die leerders nog nie gereed is vir ‘n volgende optrede nie!  Die drie beoordelaars :  Christo Kritzinger, Marelize Schutte en Suzaan Visagie het bloed gesweet om aan die einde van die aand die wenners te kon aanwys.  Eintlik was elkeen van hierdie deelnemers ‘n wenner in eie reg – dit is hoekom die beoordelaars so geswoeg het!  -  maar Jeanene du Plessis en Cobus Greeff (sien foto) is as wenners gekroon.  Waardige wenners!  Baie geluk julle twee – ons is trots op julle.

 

Sonder vele Burgersdorpers se ondersteuning sou hierdie aand nie so ‘n groot sukses kon wees nie.  Baie dankie aan elkeen wat ‘n geskenk gegee het / bydrae gemaak het, sodat ons aan die wenners ‘n heerlike pakkie van gelukwense kon oorhandig. 

 

Dankie aan almal wat ons ondersteun het – dit maak al die harde werk die moeite werd. 

 

Sien julle by Mnr & Mej BHS 2009!  Bespreek solank jou kaartjie!

 

 

On the Side

Contact

(079)892-8188
(072)806-1748
News@
Burgersdorp.ZA.NET

Copyright

NO Permission to copy
Anything!