Die wat al kom kuier het by die Huis Dirk Postma sal weet waarvan ek praat. Daar is altyd die mooiste blomme orals.
Foto: Oktober 2007
Op Vrydag 26 en Saterdag 27 September 2008 het ons ongeveer 2000 pannekoeke verkoop! Ons is ‘n groot dank aan baie mense verskuldig : Aan die N.G. Kerk wat die Kerksaal aan ons beskikbaar gestel het, Gerrie de Bruin wat ons baie behulpsaam was. Aan al die vriendinne wat gehelp het met bak, strooi, verpak en ook aan hulle wat die bestellings afgelewer het. Ons wil ook baie dankie sê aan hulle wat vir ons die bestanddele geskenk het en al die besighede en instansies wat ons ondersteun het deur bestellings te plaas.
Behalwe die ou garde wat maar gereeld agter die tafels staan was ons aangenaam verras deur die flukse hulp van Linelle en Mercia. Elizabeth en Marielle is ook van die jonger geslag wat ons gereeld help.
Ons kan ook nie nalaat om vir Breggie en die kombuispersoneel te noem nie. Hulle het ons maar verdra om hul kombuis so oor te neem.
Nogmaals baie dankie hier van Huis Dirk Postma se kant.
Net twee van ons tannies het die afgelope tyd verjaar. Op Maandag 6 Oktober 2008 het tannie Freda Dutoon (Tehuis Pa Johan se Ma) haar 92ste verjaarsdag gevier en op Vrydag 10 Oktober 2008 het tannie Emma van Vuuren (Fires en Elsie Biblioteek se Ma) verjaar en 77 geword.
Tannie Emma se woorde was toe ek haar gelukwens: “Weet jy, die Here is so goed vir my en seën my geweldig baie”. Nou ja, wat meer kan ons sê as dat dit dan ook ons wens vir julle twee is vir die lewensjaar wat voorlê.
Tannie Hettie de Haast : ‘n 87-jarige inwoner het ‘n kombers gebrei wat ‘n dubbelbed vol lê wat ons ‘n kompetisie voor geloots het en vir ons die bedrag van R1325-00 ingebring het. Die kombers is in bane gebrei en daarna aanmekaar gehekel. Pragtig in verskillene kleure van bruin en beige. Sy het R250 se wol hiervoor gebruik. DANKIE TANNIE HETTIE! Dit wil gedoen wees….
Tannie Martha Bierman : ‘n 82-jarige inwoner het ‘n pragtige stoelkussing geborduur en ook lint rosies gemaak wat daarop gewerk is. Daarna het sy kom vra vir vorms waarop ‘n kompetisie geloots is en sy het self in Burgersdorp en Aliwal-Noord kaartjies verkoop en ‘n bedrag van R1250-00 met hierdie poging van haar vir die Feesfonds gein. Wie kan haar dit nadoen?
WEL GEDAAN, TANNIE MARTHA!
Schalk en Celia Wentzel : het vir die hoeveelste jaar hulle stoutste verwagtinge oortref. Schalk het R4740 gekollekteer in geld, 5 skape, wors, en selfs verf en hondekos. Celia was die sameroeper van die koektafel en behalwe R760 se kontant ook tuisgebak vir Afrika gekollekteer. Die tafel het behoorlik gekreun van alles wat lekker was en bring ‘n rekord bedrag van R5070 in. Dankie julle twee en ook aan elkeen wat bereid was om julle te ondersteun met hulle bydraes en ons vergeet nie die flinke dames wat gehelp verkoop het nie.
Junita Marx : vir die tweede jaar het sy dit op haar geneem om die Venterstadters en Ovistonners onder hande te neem en hierdie wonderlike mense was nie skaam om haar te oorlaai met hulle bydraes nie. Sy vorder ‘n bedrag van R3700, 20 kg wors en tuisgebak in. Dankie Junita en al jou kontrei mense.
Laura Hanekom en Ans Heuer : ons twee pro’s as dit kom by die reëlings van pannekoek bak, bestellings neem en die aflewering daarvan. Alleen kan hulle dit nie doen nie, maar vele hande maak ligte werk… Dankie aan elke dame wat hier hul volle gewig ingegooi het. Die bak van oor ‘n 1500 pannekoeke is beslis nie ‘n grap nie. Wel gedaan.
Ek kan ook nie dink aan twee beter persone as juis Laura Hanekom wat tannie Martha Bierman se kussing en Ans Heuer wat tannie Hettie de Haast se kombers gewen het nie. Geluk julle!
Fires van Vuuren en Jaco Sauer : en al julle helpende manne wat gesorg het dat ons nie een oomblik moes wag vir tjops, wors of sosaties nie. Dankie aan Dirk Coetzee wat bly draf het om te sorg dat die gaar vleis in die kombuis afgelewer is. Julle was tops!
Judy Pelser : My stille hulp en ondersteuner. Ou vrou, dankie vir jou flinke en flukse hande wat gesorg het dat die kele nat gebly het. Jou kafee was voorwaar ‘n welkom dorslesser soos dit nog elke jaar was.
Die Personeel : Dankie vir die wonderlike wyse en entoesiasme waarmee julle met die lyste omgegaan het om by die besighede en mense te kollekteer. Dankie ook vir die hulp dat alles die dag vlot verloop.
My inwoners en woonstellers : Ek is so lief vir julle. Dankie vir julle opgewondenheid elke jaar met die fees en julle wonderlike deelname om van die dag ‘n sukses te maak. JULLE IS DIE BESTE!
Besighede, boere, en …. Ag sommer net die mense : Dankie dat julle jaar na jaar ons in julle besighede toelaat en verdra met ons bedellyste en dat julle so gewillig so groot gee. Dankie ook dat so baie van julle nog ‘n helpende hand uitreik om êrens betrokke te wees sodat die dag vlot kon verloop.
SILWERKRUIN DAMES : Julle is Minnie O’Hare, Celia Wentzel, Hansie Coetsee, Ria Henning, Laura Hanekom, Mossie du Randt, Kobie van Rensburg, Ans Heuer, Kotie du Preez, Hester Venter en Dorie Kleynhans. En natuurlik ons erelid Suzie Beukes. Ek glo nie die kontrei mense besef wat julle werklik vir die Tehuis doen en beteken nie. DANKIE dat julle is soos en wat julle is. Julle is beslis onvervangbaar.
DAAR IS NOG SO BAIE DANKIES IN MY HART EN EK IS SO BANG EK VERGEET OM VIR IETS OF IEMAND DANKIE TE Sê. HIERDIE IS DAN ONS DANKIE VIR ENIGE PERSOON WAT VOEL HY VERDIEN OOK ‘N DANKIE OF NOG ‘N DANKIE… DANKIE!
Volgende jaar maak ons weer so! Nê?
Nou ja, die uwe verjaar ook mos so nou en dan (nie iets waaroor mens meer wil spog nie). Nietemin besluit ek, ek gaan net vir elkeen ‘n lekkertjie met middagete gee, wat ek sommer in elkeen se kleinbordjie sal by dek. Met ontbyt roep tannie Nellie van Heerden my: “Johan, jy verjaar mos vandag. Nou ja, ek wil net vir jou sê met middagete wil ek ‘n glasie Amarula hê asseblief.” Wel wat maak mens nou. Jy gaan Bottelstoor toe sodat elkeen dan nou hierdie ‘georderde’ glasie Amarula kan kry. Tannie Nellie en baie ander vang gewoonlik ‘n middagslapie na middagete. Haar woorde aan my die middag: “Daar verslaap ek my nou wragtie helder oordag vanmiddag.” Ons wonder net wat sou haar so laat slaap het?
Nou ja, voordat die verpleegsters besluit Amarula is ‘n goeie slaapmiddel, laat ek groet :
GEGROET tot volgende keer!
Burgersdorp
Burgersdorp Nuus
die kierie 22 Feb 2008
die kierie 14 March 08
die kierie 16 Mei 2008
die kierie 13 June
die kierie 25 Julie
(079)892-8188
(072)806-1748
News@
Burgersdorp.ZA.NET
NO Permission to copy
Anything!